Laerskool Hekpoort, ‘n Afrikaanse skool waar onderwysers, ouers en leerders ons skool se leuse daagliks uitleef deur te volhard in kwaliteit onderrig, waar gelyke geleenthede gebied word aan alle leerders, sodat ons saam kan bou aan ‘n blink toekoms vir elkeen.
Geskiedenis van ons skool
Laerskool Hekpoort is amptelik in 1903, ná die Tweede Vryheidsoorlog, gestig. Die skool is aanvanklik op die huidige terrein in twee Markee tente gevestig.Ons huidige skoolgebou, tiperend van soortgelyke ander skoolgeboue, sou later bekend staan as ‘n Milnerskool. Hierdie gebou is gesetel op goeie Afrikaklip, netjies gekap in blokke.
Die eerste gebou is betrek op 14 April 1909 en is tans steeds in gebruik.
Mnr N Grobler was die eerste Prinsipaal by Laerskool Hekpoort. Alle amptelike dokumentasie is aanvanklik in Engels gedoen. Kommunikasie was moeilik daardie jare aangesien die meeste mense Afrikaans gepraat het, die amptelike taal Hollands was en die regering Engels was! Gedurende reëntyd het die vol riviere ook baie probleme geskep, aangesien leerders nie by die skool kon uitkom nie.
Mnr AH Jones is in 1909 aangestel, die tweede hoof van die skool, en het verreweg die langste dienstydperk by die skool gehad, nl ‘n volle 30 jaar en 10 maande! In 1910 het die skoolgetalle byna verdubbel van 53 tot 103.Teen die einde van Mnr Jones se ampstermyn het die skool groei beleef en het die skool voorsiening gemaak vir klasse van GR1 tot St8.
In 1940 word Mnr PC Smit as hoof aangestel. Die skool betree ‘n hele nuwe tydperk met nuwe gebruike. Vir die heel eerste keer is alle amptelike dokumentasie, inskrywings in die joernaal ens. in Afrikaans gedoen.
Mnr PS Naude word op 1945-10-16 as hoof by die skool aangestel. Mnr Naude het met vele verbeterings vorendag gekom, onder andere die vervanging van die “emmerstelsel” met ‘n rioolstelsel. Die skool se eerste telefoon is ook in ontvangs geneem. 1944-1945 word alle St 6-8 leerders oorgeplaas na die Bekkerskoolplaas. Ons skool is dus nou ‘n volwaardige laerskool met slegs Gr1- St 5 leerders.
Vanaf 18 Januarie 1949 neem Mnr JH Bekker sy pligte waar as hoof van die skool. Hy was ook die skrywer van die bekende boek en TV reeks ”Het van Verlangekraal”.In 1949 word die pragtige hekingang- soos ons hom vandag nog ken- van klip gebou.
Mnr PL Vermaak word in 1956 in permanente hoedanigheid by die skool aangestel. Die skool ontvang ‘n algehele opknapping en die ou plankvloere word vervang. Mnr Vermaak het ook ons eerste biblioteek in 1958 begin. Op hierdie stadium woon die skoolhoof nog in die oorspronklike hout en sink gebou, wat dateer van die draai van die eeu.
Mnr JJ Van Vuuren word in 1969 aangestel as hoof. Die skool gaan deur rowwe waters. Die getalle het baie verlaag, en daarom is daar besluit dat seuns vanaf 1969 eerder sokker as rugby sou speel en die dogters eerder netbal as korfbal. Mnr Van Vuuren was dan ook die eerste hoof wat die nuwe onderwyswoning op die skoolterrein sou betrek. In 1974 word ‘n voorafvervaardigde gebou as skoolsaal ingebruik geneem, wat tóé ‘n groot behoefte van die skool was.
Mnr JCJ Brewis word in 1977 as skoolhoof aangestel. Skoolure word met ‘n halfuur verleng, sodat buitemuurse aktiwiteite tydens skoolure aangebied kon word. Bykans al die leerders maak op daardie stadium van busvervoer gebruik. Die skool se eerste skoollied word in 1981 deur Mev Marie Strydom gekomponeer.
Mnr WJ Grobler aanvaar diens as skoolhoof in1985, presies 30 jaar nadat hy self die skool as skolier in St 5 verlaat het. Die Tepiana bome wat nou nog langs die atletiekveld staan, was Mnr Grobler se idee aangesien daar toe nog geen pawiljoen was nie. In September 1985 kry die skool ‘n groot geskenk in die vorm van ‘n pawiljoen wat sitplek aan ongeveer 280 leerders kon bied.
Mnr G Bothma aanvaar in Augustus 1988 diens as skoolhoof by ons skool. 1989 was een van die beste atletiekjare van die skool, die atlete verower die prestasieskild (wat vandag nog in die kantoor staan) met die kringatletiek, voorwaar ‘n puik prestasie vir só’n klein skooltjie!
Mnr BJW Buys word aangestel as hoof vanaf September 1992. Die skool se 90ste bestaansjaar word met ‘n skooldans in die Tennisklubsaal gevier.
Mnr Willem Grobler word in 1994 weer as hoof aangestel. In Oktober 1994 word daar vir die eerste keer anderskleurige kinders by ons skool ingeskryf. Vanaf April 1994 bestaan die TOD nie meer nie, en die skool val onder die Gauteng Departement van Onderwys.
Mnr Alex Rademan (ons huidige hoof) word as jongman in April 1999 as hoof aangestel. Sommer gou is die behoefte vir ‘n groter kleuterskool raakgesien en die kleuterskoolgebou word vergroot. In 2001 word daar ‘n splinternuwe kleuterskool langs die onderwyswoning gebou, aangesien die een wat in gebruik was nou heeltemal te klein geword het. Mnr Rademan het ook verskeie ander bouprojekte aangepak, onder andere die toilette by die sportgronde, die opknapping van die verkoopslokaal en die gedenkmuur voor die skool. Mnr Rademan verlaat die skool einde 2003 vir die privaatsektor.
Me Loryn vd Berg neem as hoof vir 2004 waar. Daar is slegs dames by die skool, en hulle het die jaar die wa deur die drif getrek.
Mnr Chris Denyschen word in 2005 as hoof aangestel, hy bedank egter aan die einde van die jaar. ‘n Tweede badkamer word in die skoolhuis aangebou.
Mnr JH Smith begin in Januarie 2006 as hoof. Die Gr R klas word by die skool ingelyf, onder leiding van Me Mia Petzer. Die verhoog word vergroot en uitgebou met trappies. Al 3 ons rugbyspanne dring deur na die Goue Leeus finale, en ons 0/11 en 0/13 spanne word as Goue Leeu wenners gekroon. Ons het ‘n dogter, Lenise Erasmus , in ons 0/13 rugbyspan gehad en sy word spesiaal uitgesonder tydens die Goue Leeus -prysuitdeling.
Me Thea Buitendag neem waar as hoof tydens 2007. Weereens het die dames by die skool hul uitstekend van hul taak gekwyt..
Me L vd Berg neem weer waar in 2008. Doornbosch Primary word toegemaak en 50% van hul leerders word by ons skool geplaas. Dit het verskeie uitdagings op ons pad gebring, veral die taal van onderrig. Daar is besluit om leerders wat nie Afrikaans magtig is nie, in twee klasse te plaas- een in die grondslagfase en ‘n ander een in die Intersenfase. Die skool het dié moeilike jaar met baie aanpassings oorleef.
Mnr Alex Rademan word in 2009 weer as hoof by die skool aangestel. Ons finansiële dame, Sonja Easton, is in ‘n motorongeluk oorlede. Die skool is in rou.
In 2010 verwerf ons dramagroep 1ste plek in die Nasionale Eisteddfod se eksperimentele afdeling. Vir die eerste keer hou ons ‘n 4×4 dag in Mei. Dit is tot vandag toe nog ‘n vaste instelling om ons 4×4 dae op die eerste naweek van Mei en Oktober aan te bied. Tot op hede is dit ons skool se grootste fondsinsamelingsprojek per jaar. Die hele skool en die Hekpoort 4×4 klub werk saam om van die projek n sukses te maak.
In 2011 ontvang ons ‘n groot geskenk van “shaft sinkers”- ‘n groot bus wat ons instaat stel om leerders vanaf Casa De Vliet (net verby Skeerpoort) na ons skool te vervoer. In 2011 het die damesforum van Hekpoort met ‘n nuwe tradisie by ons skool begin nl. ‘n kerspartytjie vir die hele skool! Elke kind ontvang ‘n kersgeskenk en word bederf met heerlike eet- en drinkgoed.
In 2012 kry al die klaskamers nuwe vloere. Thabiso Baadjies is die eerste leerder van ons skool wat vir die Goue leeus se Cravenweekspan gekies word! Verskeie ander leerders behaal ook provinsiale en nasionale kleure vir buitemuurse aktiwiteite. Ons is baie trots op wat ons kinders bereik!
In 2013 word daar nog klaskamers by die kleuterskool en verkoopslokaal aangebou. Die nuwe KABV kurrikulum word in werking gestel. 80 van ons leerders neem deel aan die toneelopvoering wat is die Staatsteater opgevoer word. Ons vier ons 110 jaar met ‘n revue en ‘n groot partytjie vir die hele skool.
In 2014 word daar weer verskeie hoogtepunte op akademiese-, sport- en kultuurgebied gevier. Vir die eerste keer is ons Gr1 klas se getalle so hoog, dat die bestuur besluit het om die klas in twee te verdeel. Ons parkeerarea word opgeknap en die hele gebied kry ‘n teeroppervlak. Die hele skool word met splinternuwe pallisades omhein.
In 2015 het ons getalle so toegeneem dat die skool ‘n ekstra Departementshoofpos toegeken word. Mnr Johan Oosthuizen, ‘n besigheidsman in die omgewing, skenk ‘n splinternuwe Quantum-bussie aan die skool- ‘n reuse geskenk waaroor almal baie dankbaar is.
In 2016 word aanlynregistrasies vir die eerste keer verpligtend- ‘n heel nuwe era vir skoolinskrywings! Tswana tweede addisionele taal word vir die eerste keer by ons skool aangebied, daar word by die gr1 klas begin en hul sal dan soos hul in grade vorder, ook met die Tswana vorder. Ons huidige skooldrag word as nuwe skooluniform ingefasseer en ouers kan nou skoolsweetpakke, skoolhemde ens. direk by die skool koop.
In 2017 word ons skool aangewys as die top Sportskool in Gauteng-wes! Dit is voorwaar ‘n puik prestasie vir ons klein skooltjie wat stof in al die ander groot skole se oë skop. Dit is weereens ‘n bewys van die leiding en toegewydheid van ons hoof, personeel en leerders! Ons weervaste netbalbaan word opgeknap, en kan nou ook as tennisbaan gebruik word. Me Tina Kriek tree na 18 jaar by Laerskool Hekpoort as sekretaresse af. Die administratiewe en finansiëlekantoor word uitgebreek en opgeknap.’n Splinternuwe sportstoor word agter die netbalbane gebou. Afdakke vir die personeel se voertuie word in parkeerarea binne in die skool opgesit. ‘n Tina Cowley leessentrum word by ons skool geopen. Alle leerders van Gr R tot Gr 7 besoek weekliks die sentrum.
In 2018 word daar ‘n splinternuwe verhoog, dansbaan en verkoopslokaal onder by die sportgronde gebou. Ons skool word as naaswenner in Gauteng-wes aangewys as Kultuurskool van die jaar. Ons hoofdogter, Zanelle Potgieter, word as Kultuurdogter van die jaar in Gauteng-wes aangewys. Ons beker loop oor van trots op ons klein skool met sy groot hart en puik prestasies!
In 2019 word daar afdakke by die Gr4-7 leerders se tasse opgesit.Ons sekuriteit word opgeskerp met ekstra kameras op strategiese plekke.Juf Fienie Schutte groet die skool na 19 jaar diens. Sy gaan op ‘n welverdiende pensioen. Ons is trots op ons hoofdogter, Mongenique Viljoen wat deurgedring het na die Nasionale finale van Radikale Redenaars. Ons skool kry ‘n ekstra groeipos vir 2020 personeel.
2020 het met verskeie uitdagings begin. Vir die eerste keer moet daar vir enige sportbyeenkoms buite die skoolgronde volledige “toerdokumente” voltooi word. Daar word vir die eerste keer met interaktiewe TV lesse in ons Intersen-fase begin. Ons eerste kwartaal eindig vroeër as beplan a.g.v die nasionale grendeltydperk wat deur ons President, Mnr Cyril Ramaphosa, aangekondig word. Covid-19 bring die hele land, die hele wêreld tot stilstand.
2020 was ‘n baie deurmekaar jaar, leerders het vir weke nie skool toe gekom as gevolg van Covid. Onderwysers het aanlyn en op Whatsapp groepe voortgegaan en klasse aangebied, sodat leerders nie te ver agter raak nie.
Skoollied
Hier tussen die bome
Omring deur waterstrome
Staan ons skool gebou op rots
Dit is ons skool, ons trots
Koor:
Karakter sterk en trou
Word hier vir ons land gebou
Hekpoort getrou aan jou
Wil ons volhard en bou
Hekpoort getrou aan jou
Wil ons volhard en bou
Ons wil deur ons handel
Ons lewe en ons wandel
Steeds elke dag bly streef
Ons leuse uit te leef
Koor:
Karakter sterk en trou
Word hier vir ons land gebou
Hekpoort getrou aan jou
Wil ons volhard en bou
Hekpoort getrou aan jou
Wil ons volhard en bou
Skoolerekode
Ons dank God vir lewe, gesondheid en krag
Ons erken Sy wil en leiding in ons lewe en ons wandel
Ons beloof on ten volle gebruik te maak van al
die geleenthede wat Hy ons bied
Ons beloof om ons plig te doen in ons werk,
teenoor ons land en nederig te wandel voor God,
met oë gerig op Hom, om ‘n kobare
hoeksteen te word in Sy Huis en die van
ons Vaderland
Ons sal ons taak met nougesetheid, stiptheid en
dankbaarheid nakom
Ons beloof lojaliteit teenoor ons skool en die wat
oor ons aangestel is en sal poog om nooit aan
‘n ander te doen wat ons nie aan onsself
gedoen wil hê nie
Ons sal in ons lewenswandel poog om ‘n voorbeeld
te wees t.o.v. ons gedrag, taal, vaderlandsliefde
en gesindheid teenoor ander
Ons sal ons weerhou van enigiets wat die
goeie naam van onsself, maats, onderwysers,
ouers of skool kan skaad
Ons beloof om te alle tye ons medemens in
nood met liefde en die nodige respek te bejeen